"Die gevalle Zoeloe-Indoena" deur C.M. VAN DEN HEEVER [boodskap #40141] |
Ma, 12 Maart 2001 18:10 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Die Gevalle Zoeloe-Indoena
C.M. van den Heever
Jou lyf die glim soos koper op die veld
en grassaad buig oor jou
hul môredou,
hier waar jy slaap
jou laaste slaap.
Jou spierwit pluime sidder nog
net of jy veg, maar langs jou lê 'n bloedstroom
wat weggesink het in die sand;
jou hand
lê willoos-slap en asvaal
langs die vlymskerp assegaai.
Jou koning in Oemkoengoenhlovo
sal wag vir jou,
sy hand sal oor sy oë rus,
wat vérweg dwaal tot by die blou
waar jy gaan veg het.
Hy sal vir die gedreun van voete wag,
gekletter van die skild,
vir wit-omkwaste bene en gedans
opruiend, kwaai en wild.
Die bulte sal jou roep
en eensaam sal 'n Zoeloe-meid
saans by haar vuur gaan wag
stil-starend tot die nuwe dag.
Die son wat vuurmaak oor die bulte,
sal wagters wek,
hul lied sal klink die klowe deur,
die sagte more teen,
en almal sal weer lag en lewe,
al is jy heen.
As die Indoenas weer gaan veg,
die bulte lewe van hul wilde dans,
die skilde kletter en asgaaie blits
hoog in die son
dan slaap jy nog,
dan slaap jy diep,
jou vere wyd verstrooi deur son en reën,
jou lyf wat sag geglim het net soos koper,
dan weg, en jy?
Die grassaad sal nog buig,
die beeste bulk, die lewe roep,
maar jy?
Hier waar jy was, sal skape wei.
|
|
|